Afrikaanse persvrystellings


OPWINDENDE HA!MAN

(122 woorde)

Suid-Afrika se spontane en kreatiewe tjellis, die HA!Man (Francois le Roux), verskuif grense al vir meer as twee dekades op 'n inspirerende en vermaaklike wyse. Die HA!Man keer die tafels om: tjello is skielik lekker, klassiek en Afrika dans saam en improvisasies klink soos meesterkomposisies. Onafhanklik, hou "die HA!" die vlam van passievolle en roerende musiek plaaslik en internasionaal omhoog met sy avontuurlike musikale reise. Vir beide die kenner en die leek word tjello, elektronika, fluite en voete telkens uniek tot 'n rare simfonie van wydheid, diepte en varsheid saamgesnoer. Die HA!Man bly toegewy daaraan om plaaslike gemeenskappe met sy uitsonderlike talente te bedien. "Soveel talent en kreatiwiteit het ek nog nie beleef nie! Briljant! Moet dit asseblief nie misloop nie!" (Mariëtta Kruger).



ONKONVENSIONELE HA!MAN

(380 woorde)

Die Ha!Man (Fancois le Roux) betower en verrras gehore wereldwyd met sy tjello, oorspronklike elektroniese begeleidings, klawerbord, stem en danse. Sy musiek weerspieel sy Suid-Afrikaanse wortels en sy spontane benadering daag konvensionele idees in beide die ernstige en kommersiele musiek markte uit. Hy het al vele klankbane geskep vir toneelstukke, films en poesie-uitvoerings en is aangestel as musiek-direkteur van die Suid-Afrikaanse "Woman of the Year" Gala (2001, 2002) en die "Ukkasie" Fees in die Royal Albert Hall in London, 2004. Bestempel as een van Suid-Afrika se mees bedrewe musikante en 'n baanbreker tjellis/skepper, opereer hy onafhanklik en reis ongeveer 70 000 km 'n jaar per motor. Die Ha! in "HA!Man" beeld beide die spontane aard van sy vertonings asook sy geesdriftige en inspirerende musiekstyl uit. Sy formele musiek opleiding het plek gemaak vir 'n onkonvensionele loopbaan, beginnenende met spontane straat-vertonings, 'n eksperimentele fase van 4 jaar lank, 'n tydperk van ryloop deur S.A. en die eksplorering van 'n verskeidenheid vorme van kreatiewe uitdrukking. Tans bestuur hy self 'n vol skedule van vertonings, werkswinkels en kreatiewe projekte terwyl hy in kontak bly met 'n wereldwye netwerk ondersteuners d.m.v. nuusbriewe en 'n web-tuiste (www.hamanworld.com). Die wyer publiek in SA het begin kennis neem van hom deur 'n voorblad artikel in Rapport Tydskrif en hoofartikel in die Sunday Times (Aug 2009), asook 'n profiel uitgesaai op Kyknet se gewilde kunsprogram "Kwela" (Jan 2010).

Die HA!Man werk gereeld met kore en massakore beide plaaslik en internasionaal, veral in die vorm van koorimprovisasie en die sing van sy eie koorliedere. Koorimprovisasie is nie wyd bekend nie, tog wek dit groot geesdrif onder ervare leiding en ontvang dikwels groter gehoorreaksie as gekomponeerde werke. Kore saam met wie hy al gewerk het sluit in die Singkronies Kamerkoor, Colla Voce, Oos-Randse Jeugkoor, UJ Choir, Fezeka Choir en die Drakensbergse Seunskoor. Sy koorwerke staan buite die klassieke en kommersiele kaders en word wyd gewaardeer as oorspronklike en roerende skeppinge wat wesenlike eietydse sake aanspreek.

Veteraan kritikus Colin Lang som die Ha!Man-ervaring as volg op: "Algeheel is die vars klank van oorspronklike melodieuse skepping en polsende ritmes is uiters boeiend, so ook (die HA!Man se) aantreklike en ekspressiewe liggaamstaal en stem. Sy persoonlikheid toon iemand wat diep nadenkend, musikaal deursigtig en deeglik is, met 'n volgehoue liefde vir alle kreatiwiteit."



WYDBERESE HA!MAN

(1241 woorde)

Die HA!Man (Francois le Roux, gb. 1966) stap lank reeds die pad van 'n onafhanklike kunstenaar: tjellis, komponis en aanbieder van inspirerende werkswinkels. Sy fokus op spontane musiekmaak (vandaar die term "HA!") kan na sy kinderdae as deel van 'n musikale familie terugherlei word. Reeds op vier-jarige ouderdom konstrueer hy klavierstukkies wat imponeer. Op sewe begelei hy kerkliedere op gehoor en op tien word hy aangestel as Suid-Afrika se jongste permanente orrelis. Dwarsdeur sy skoolloopbaan in Johannesburg ontvang hy opleiding in tjello, klavier, orrel en komposisie en presteer hy met beurse, kompetisies, uitsendings en solo-optredes saam met prominente orkeste. Daarna volg twee jaar militere diensplig en 'n BA cum laude in teologie en filosofie by Stellenbosch Universiteit. Hy keer terug na musiek met twee jaar studies deur UNISA en kort flirtasies met formele tjello en komposisie as loopbaankeuses.

Die historiese veranderinge van 1990 tot 1994, asook sy lewendige belangstelling in nuusgebeure en die geskiedenis, is deels verantwoordelik vir sy uiteindelike besluit om die formele musiekwereld te verlaat en op eie stoom volledig-geimproviseerde uitvoerings op tjello, klavier en orrel te gee ("Francois on Piano," Grahamstadse Fees, 1992). Hierdie "vars begin" neem hom na die strate en vlooimarkte (en sitkamers!) van Suid-Afrikaanse stede en dorpe waar hy oor vyf jaar die kuns van spontane tjellospel - waar elke oomblik tel - bemeester. In hierdie tyd begin hy ook sy rou-spruite dieet en ryloop hy oor die lengte en breedte van die land. Sy spontane uitdrukkingsvernuf word uitgebrei na skryf, teken, dans en "performance art" en hy verdien broodlyn-inkomste uit die verspreiding van handgeskrewe gedigte en tekeninge.

'n Volgende fase word in 2000 betree by die aanskaf van 'n voertuig en rekenaar. Spoedig begin die skepping van sy befaamde elektroniese begeleidings wat hoofsaaklik met spontane tjello aangevul word in sy optredes. Klankbaanskepping en werkswinkels by skole in "spontane kreatiwiteit" neem ook 'n aanvang. in 2001 doop hy homself die "HA!Man" in om iets van sy nuut-ontwikkelde identiteit as kunstenaar vas te vang: 'n skepper-in-die-oomblik, 'n netwerker van mense en plekke, 'n voorstaander van drie-dimensionele denke en 'n hart besorgd oor die menslike kondisie.

Die "HA!Man Vertoning" groei sedertdien tot 'n geleentheid wat oorloop van die energie van direkte kreatiwiteit, wat speels grense oorskry tussen uitdrukkingsmediums (hy sluit ook die klawerbord/klavier, blok- en ander fluitjies, "tjelloperkussie," dans en sang in) en musiekstyle (sy klassieke agtergrond word verryk met 'n sterk dosis van Afrika, wereld- en populere musiek). Dis opwindend in die interaktiwiewe aard daarvan - die gehoor word keurig betrek in die skeppingsproses - en beindruk met sy internasionale vlak van vaardigheid en strukturele rugraat. Die werkswinkels ontvou uniek met elke groep - uit vlakke wat wissel vanaf voorskool tot tersiere en deur tot volwasse en korporatiewe vlak. Gebasseer op 'n eenvoudige dog kragtige fasilitering van direkte uitdrukking, word selfvertroue, groepssensitiwiteit en kreatiewe inspirasie bevorder en lei dikwels tot persoonlike katarsis. Vanuit sy mobiele atteljee verskyn 'n konstante vloei van opnames, verwerkings en klankbane wat die onmiskenbare merk van sy meevoerende, begeesterde en "onklassifiseerbare" klanke dra.

As bestuurder van sy eie loopbaan, hou hy noukeurig databasisse van ondersteuners, opnames, geleenthede, toerbeplannings en skeppinge in stand. Hierdie veeleisende werkswyse maak dit vir hom moontlik om 'n hoe graad van oorspronklikheid in sy bewegings, gehoorontwikkeling en prudukteverskaffing te handhaaf. Tog het hy ook reeds 'n beduiende merk in die publieke sfeer gemaak - in Suid-Afrikaanse venues soos die Sandton Theatre on the Square, Evita se Perron (Darling), die Dorpstraat Teater (Stellenbosch), Kalk Bay Theatre en met massakore in die Linder Ouditorium en Grahamstadse Monument-teater. Die HA!Man verskyn ook gereeld by groot en klein kunstefeeste ooraloor Suid-Afrika en was aangestel as musiekdirekteur vir prominente geleenthede soos die South African Woman of the Year Awards Gala (Artscape Opera, Kaapstad, 2001,2) en die Ukkasiefees-hoofkonsert in die Royal Albert Hall (Londen, 2004). Hy het al gekomponeer vir en/of verskyn met name soos Sibongile Khumalo (sopraan), Stef Bos (sanger, Belgie) en Steve Hofmeyr (sanger, Afrikaans) en 'n paar profiele is reeds deur nasionale radio en televisie uitgesaai.

Sy entoesiasme oor samewerkings lei tot staande artistiese verhoudings met instrumentaliste soos Derek Gripper, (kitaar), Paul Hanmer (jazz klavier) en Laura Kirsten (klassieke klavier en poesie). Ander sluit in Eric Leonardson (elektroniese klankskepping, Chicago), Cathleen Schandelmeier en ander Chicago digters in drie multi-media produksies, Jan Seiden (Amerikaans-Indiese fluite, Baltimore), Andrew Peters (township sanger) en Sheri Brown (Bhuto danser, Seattle). Verskeie projekte wat musiek en die digkuns kombineer sluit in 'n CD-opname saam met Carina Stander asook produksies met Helena Conradie en Annelise Wiid. 'n HA!Man-klankbaan vergesel ook die kunsinstallasie ("Green Bottles") by die Paarlse kunstefees in 2008.

Sy werkswinkels het al ver draaie gemaak: skole en universiteite (asook gevangenisse en inrigtings vir gestremdes) regoor Suid-Afrika; by vooraanstaande institusies in die buiteland, soos die Princeton en Kansas Universiteite, die Soka Universiteit naby Los Angeles, die Sahmyook Universiteit in Seoul, Korea en die Hochschule fur Musik in Bern, Switzerland. 'n Goed-gedokumenteerde drie-daagse kunsenaar-in-situ projek was van stapel gestuur in die Niskayuna skool-distrik en ook later by Proctor's Theatre in Schenectady, New York State (2006,8). Korporatiewe sessies sluit in Nashua Mobile, Liberty Life, LG (Korea), Akorn Destination Management (hotel Le Meurice, Paris) en JP Morgan (London). 'n Betekenisvolle bevestiging van sy omvangryke vaardigheid was sy betrokkenheid in Mei 2008 by "The Prince of Wales's Business and the Environment Programme's 5th Southern African Seminar" (Kaapstad). Vir die eerste maal is 'n kunstenaar gevra om nie alleen 'n optrede te gee aan hierdie uitgesoekte versameling van besigheids en regeringsleiers nie, maar ook 'n werkswinkel aan te bied en deurgaans aan besprekings deel te neem, met kreatiewe "intervensies" op klavier om die gevoelsdimensie weer te gee en te versterk. Die HA!Man was ook vir twee jaar genooi om die uitgesoekte Mandela Rhodes Scholars met sy werk en leierskaps-insig te inspireer.

Sy uitgebreide reise staan nie in die pad van 'n hoe uitset van werk nie. Sedert 2000 tel sy skepping in die duisende. Dit sluit opnames, videowerk, CD aen DVD albums, gedigte in Afrikaans en Engels asook grafiese kuns in. Onder lewendige opnames tel uurlange vol-improvisasies: orrel met gehoordeelname (SABC - Johannesburg, 1999 en St George's Katedraal - Kaapstad, 2000); klavier (SABC - Johannesburg, 1998) en Genk (Belgium, 2007). Klankbane voltooi sluit in "Die Prins van Pretoria" (Franz Marx vollengte film, 1991), Andrew Buckland se "Makana," Reza de Wet se "Lake," Tanya Surtees se bekroonde "Gumbo" en Peter Krummeck se produksie van Shakespeare se Hamlet (drama); Gary Gordon se "Tread" en Heike Gehring se "Lady Anne" (fisiese teater). Ook voltooi hy 'n meevoerende klankbaan vir die globaal-vrygestelde TV dokumenter oor die ontwykende "Knysna Elephants."

Francois beoog om in die langtermyn sy onafhanklike HA!-platform te behou en dit te ontwikkel tot 'n beduidende kanaal vir kreatiwiteit wat spontaan is in die diepste sin van die woord. Dit is sy oortuiging dat hierdie kunsvorm op baie maniere kan bydra tot die volwassewording van die mensdom, 'n mensdom wat in sy huidige adolossensie ernstige uitdagings in die gesig staar. Sy Afrika wortels is deel van sy inspirasie hiertoe. Vir hom is deel van ons heling as 'n besonderse spesie net moontlik as ons ons Afrika-oorspronge erken en opnuut ontgin. Dit is hierdie HA!-musiek van "onder af uit" wat voelbaar is in sy optredes, wat hy bevorder deur al sy aktiwiteite en wat hy hoop 'n blywende bydrae sal lewer.

Francois is in 2015 met die Belgiese aktriese en skrywer Joke Debaere getroud. Hulle het 'n enkel dogter, Mira, en is tans in Brugge gebasseer.


 


hamanworld.com